Biografie

Wynand het op jong ouderdom homself geleer om die klavier en guitar te bemeester.Van kleins af was dit vir hom ‘n groot begeerte om eendag in ‘n orkes te speel. In 1990 op Stellenbosch Universiteit het hy en Peter Oettle begin om musiek maak. Kort voor lank het ‘n derde persoon hom by hulle aangesliut en het hulle bekend gestaan as “Another 48 Hours”.

 

Baie vinnig het hulle hul merk gemaak as ‘n goeie troue en partytjie orkes en die geleenthede het ingerol. Ongelukkig moes Wynand na Worcester verhuis waar hy saam met Manie Mongia  bekend gestaan as “No Strings Attached.” Later in Hermanus begewe hy homself in die “Bandscene” en begin sing vir “Sequence” maar verhuis binnekort na Brandvlei waar hy toe saam met sy broer ‘n restaurant - Die Windpomp - op die bene bring. Musiek was maar redelik op die agtergrond vir geruime tyd aangesien hy al sy aandag aan sy werk en die boeredery saam sy pa, spandeer. In 2001 verander dinge egter en begin mense ewe skielik baie in hom belangstel en word hy deur die Noordkaap se mense Wynand Windpomp gedoop.

 

Die optredes begin inrol en hy besluit om ‘n CD te maak. Wynand kry ‘n bekwame span bymekaar en skryf die meeste van sy liedjies self. Die lirieke handel veral oor verlange na die karoo, ‘n windpomp natuurlik,‘n boerenooi en sexy meisie wat teveel van haarself dink en daarom dan,Te ladida soos hy sy CD noem.

 

Die bekendsteling van die CD by die KKNK 2004 was ‘n groot sukses en verkoop hy daar 450 CDs. Daarna bied Bowline aan om sy cd te bemark en begin verskeie van die radiostasies Wynand se CD te speel. Sy musiekvideos word ook tans amper elke dag op kyknet gespeel. Onlangs was hy ook as nuwe kunstenaar bekendgestel op Pitstop waar hy die eerste plek met 0,02 % misgeloop het teen die persoon wat eerste gekom het. In verskeie tydskrifte en koerante het Wynand se CD ook beindruk en kry hy baie goeie resensies.Wynand is ook by talle groot feeste te sien asook by menigte ander optredes.

 

Sy tweede Cd het reeds die lig gesien wat by SMP (Snyman Musiek Produksies) opgeneem is en sal by die Rittelfees te Vredendal 2005 bekendgestel word. Kyk uit vir hierdie een met 15 oorspronklike treffers.

 

Wynand Windpomp is ‘n Afrikaanse sanger met 2 cd’s “Te ladida” En “Soektog” wat die lig gesien het en werk tans aan sy 3de wat oor 2 maande gereed sal wees en iets heeltemal nuts aan die Suid afrikaanse mark gaan bied. Hy tree by al die groot feeste op en reel ook sy eie verhoog te KKNK elke jaar  by name grootvoel paradys, waar ongeveer 180 kunstenaars optree. 

 

Hy tree al sedert 5 jaar terug op regdeur Suid Afrika asook Namibie en Mozambique en bevind hom nou die afgelope 3 jaar al in Pretoria.

 

Hy self is ‘n partytjie ou en wanneer hy optree speel hy “lead guitar” asook sing enige liedjie na aanleiding van wat die gehoor verlang. Enige funksie asook troues is sy kos en hy het ‘n baie familiere houding met sy gehore en kry dit maklik reg om hulle te betrek deur middel van “sing alongs” en die manier waarop hy met hulle komunikeer.

 

Sy genre is van golden oldies tot hedendaagse pop rock (Afrikaans en Engels) en sy repetorium is ongeveer 350 liedjies en nog groeiend.

 

Hierdie kunstenaar is besig om diep spore in die Afrikaanse musiek bedryf te trap en het ‘n groot treffer met “Sterre wat fluister” asook “ Waansin” op sy cd “Soektog” wat baie gereeld op bekende radio stasies speel.